Uit ons hoof se kantoor

Boodskap van ons hoof - Bernard Roodt

Voornemende ouers van Laerskool Vastrap - baie welkom by ons webtuiste.  Kom ervaar gerus ‘n stukkie van ons skool, sy unieke mense en ons wonderlike Rustenburg-omgewing.

Laerskool Vastrap spog met ’n besondere ryk geskiedenis en ’n trotse tradisie van besondere hoë akademiese-, kulturele- en sportprestasies.   Ons belangrikste uitgangspunt is om goed gebalanseerde leerders aan die samelewing te lewer – kinders wat  al die lewensvaardighede verwerf het wat nodig is om te oorleef in ’n kompeterende Suid-Afrika.

Een van die belangrikste besluite vir enige ouer is ongetwyfeld die keuse van ‘n geskikte skool vir ‘n kind.  Wees gerus dat ons by Vastrap u kind met sensitiwiteit dog fermheid aan die lewe sal blootstel.  Ons sal poog om sy/haar potensiaal te ontwikkel en om u vennoot te wees in u kind se opvoeding.

Vastrap streef na uitnemendheid op 'n Christelike grondslag deur moedertaalonderrig en die totale ontwikkeling van elke leerder. Ons glo aan 'n vennootskap tussen alle belanghebbendes, waar vertroue en verantwoordelike interaksie ‘n deurslaggewende rol speel.  Ons kinders is ons allerkosbaarste vreugde, deur God self aan ons toevertrou. Dit is vir ons ‘n voorreg om ons gemeenskap te dien met alles wat by Laerskool Vastrap gebied word.

Ons leerders, ouers en personeel beleef Vastrap as 'n plek waar ons almal veilig en geborge voel, vir mekaar omgee en uitreik na mekaar.  Mag u kind sy/haar volle potensiaal bereik binne die Vastrap familie!

Vastrap-groete

Bernard